Babas se speelarea moet apart wees van dié van die peuters. Peuters kan nogal geniepsig wees, nie omdat hulle met opset geniepsig is nie maar bloot omdat hulle nog nie voldoende beheer oor hulle bewegings het nie.
Babas het geleentheid en ruimte nodig om te beweeg.
Babas moet aangemoedig word om basiese bewegings soos rol, stoot, trek en ook klein sagte apparaat soos balle en blokke te knie en te manipuleer.
Babas het geen begrip vir oorsaak en gevolg nie. Speelgoed wat dus hierdie aspek beklemtoon is nie geskik vir babas nie.
Babas kan vandat hulle kan kruip, ook hande-viervoet klim. Hulle kan dus baie vinnig by trappe opklim of ook op ander voorwerpe klim. Alhoewel daar ‘n risiko verbonde is aan hierdie drang om te klim, moet daar geleentheid geskep word vir babas om onder toesig klimaksies uit te voer.
Babas kan aangemoedig word om deur tonnels te kruip. Die mure en die “plafon” van die tonnel kan vorms kleure, prente van skrif en prente van gesigte op hê. Die babas kan aangemoedig word om deur die tonnel te kruip deur hulle van die een kant te roep en te prys as hulle kruip. Hierdie tonnels kan aangekoop word, maar kan ook gemaak word van kartonbokse wat aanmekaar gelas word.
Ligte plastiekballe wat klein genoeg is dat die baba die bal kan optel is ideaal vir hierdie ouderdom. Babas wat kruip speel “sokker” met hierdie balle deur hulle te keer en te rol terwyl hulle kruip. Hulle ontdek ook dat hulle die bal kan gooi, gaan haal en binne-in houers gooi. ‘n Sak met 100 balle is sekerlik ‘n goeie belegging vir ‘n baba- en peuterafdeling.
Babas kan reeds van so vroeg as 10 maande begin stap. Op hierdie stadium het hulle baie min ruimtelike insig om beserings te vermy. Hulle het ook geen begrip van gevaar nie. Toesig is dus uiters noodsaaklik. Wat ons nie moet doen nie is om die babas se bewegingsdrang in te perk omdat ons bang is dat hulle sal seerkry. Beter en meer toesig is die antwoord.