ONTWIKKELINGSMYPALE VAN BABAS EN PEUTERS: ONTWIKKELINGSGESKIKTE KUNSAKTIWITEITE
Back to Articles
Tradisioneel is daar in die verlede baie tyd in die voorskoolse program aan die ontwikkeling van sosiale vaardighede bestee. Die belangrikheid van hierdie klem word meer en meer beklemtoon deur onlangse navorsing. Dit is egter so dat onderwyseresse al hoe meer druk ervaar om meer tyd te bestee aan wat ons “akademiese” vakke kan noem, en al hoe minder tyd aan die ontwikkeling van sosiale vaardighede. ‘n Verdere faktor wat ‘n belangrike rol speel is die feit dat die ouerhuis se invloed ten opsogte van sosio-emosionele ontwikkeling minder word. Babas en peuters word vroeër in sorg geplaas en spandeer ook langer ure in die voldagsorg. Dit beteken dat die rol van die skool en die onderwyser in die kleuter se sosiale ontwikkeling al hoe belangriker word.
Die verband tussen emosionele insig en sosiale vaardighede is reeds in ‘n vorige artikel genoem. Ek haal weer aan uit Vygotsky (Berk & Winsler,1995:12) wat daarop wys dat denke en intelligensie hoegenaamd nie los te maak is van die sosiale en emosionele kultuur waarbinne die kind beweeg nie. Hierdie integrasie tussen kognitiewe ontwikkeling en die sosiale en emosionele omgewing waarbinne die kind beweeg beteken natuurlik nie dat daar nie universele faktore in kognitiewe ontwikkeling is wat vir alle kinders dieselfde is nie. Nogtans beteken hierdie verweefdheid tussen die verskillende aspekte van kleuters se ontwikkeling dat ‘n eenvormige toets soos ‘n skoolgereedheidstoets eintlik net die enkele universele aspekte betroubaar kan toets. Die ander, dikwels belangriker aspekte word heeltemal buite rekening gelaat. Aspekte soos emosionele geborgenheid wat ‘n belangrike uitwerking op die rasionele kognitiewe kan uitoefen, word dikwels heeltemal geïgnoreer.
In baie skole word juis aspekte wat kinders sogenaamd skoolgereed sal maak beklemtoon ten koste van belangrike vaardighede soos emosionele beheer, sosiale kennis en begrip en sosiale vaardighede, soos byvoorbeeld:
- Om beurte te neem en te weet hoe om suksesvol by ‘n groep aan te sluit
- Om in die groep saam te kan speel wat beteken dat kleuters die belangrike vaardighede van beurt afwag, toepaslike reaksies in ‘n groep en ook hoe om toepaslik verbaal te reageer, moet aanleer voordat hulle laerskool toe gaan. ‘n Belangrike vaardigheid wat hier genoem kan word is hoe om geweld op ‘n nie-gewelddadige wyse the hanteer.
Ons moet aanvaar dat kleuters hierdie vaardighede nie vanself aanleer nie. Die rol van die onderwyser om die omgewing te beplan en ook haar verbale bydrae te beplan is uiters belangrik. Wanneer kleuters byvoorbeeld die verband kan sien tussen oorsaak en gevolg, raak dit nie net moontlik om emosies te beheer nie maar ook om situasies wat kan lei tot negatiewe emosies betyds te ontlont. Die vermoë om die verband tussen oorsaak en gevolg te kan sien is ewe belangrik vir wiskundige en wetenskaplike insig.
Een van die belangrike aspekte wat hier ter sprake kom is om kinders te help om as vredemakers op te tree. Kinders wat insig het in hulle eie en ander se emosies en reaksies is meer geneig om nie gewelddadig of aggressief te reageer wanneer iemand iets sê of doen wat dalk as konfrontasie geïnterpreteer kan word nie. Mense wat nooit hierdie vaardighede aangeleer het nie is geneig om in enige situasie wat in hulle oë as vernederend, verkleinerend of uittartend waargeneem word, gewelddadig te reageer. This jump to judgement testifies to a deep perceptual bias in people who are unusually aggressive: they act on the basis of the assumption of hostility or threat, paying too little attention to what is actually going on.. (Golman, 1995:235). Weereens is die voorbeeld van die volwassene sowel as die verbale begeleiding wat plaasvind uiters belangrik. Te lank is gedink dat hierdie soort sosio-emosionele inhoud van die dagprogram verskuil is in die “verborge kurrikulum”. Kleuters was dan veronderstel om dit op ‘n terloopse wyse aan te leer. Vandag weet ons dat hierdie vaardighede te belangrik is om net aan terloopse leer oor te laat. Ons sal later meer aandag gee aan die spesifieke kenmerke van die verhoudings en die aard van die leeromgewing in die ontwikkeling van sosiale vaardighede.
Back to Top
Next Page >> 1 | 2 | 3 | 4 | |