BREINONWIKKELING - IS DIT REGTIG SO BELANRIK?
Back to Articles
Die implikasie van breinontwikkeling vir die voorskoolse kurrikulum
Die navorsing en kennis oor breinontwikkeling is reeds male sonder tal in Kleuterklanke / Learning Years bespreek. Dit vorm met reg deel van die meeste opleidingskursusse van die Vereniging. Hierdie navorsing en kennis is ongetwyfeld die belangrikste aspekte oor die leer van jong kinders wat die afgelope twee dekades na vore gekom het. Dit het egter nou tyd geword dat ons hierdie kennis op die ontwikkeling van die kurrikulum toepas. Hierdie artikel is ‘n poging om na die implikasies van hierdie navorsing vir skoolpraktyk vanaf geboorte tot Graad 3 te kyk.
In Rima Shore (1999) se boek, Rethinking the brain, word Dr H Chugani dikwels aangehaal. Harold Chugani was ‘n neuroloog en was in die 1980’s die hoof van die PET-skanderingsentrum van die Universiteit van Kalifornië (UCLA). Hy het die PET-skandering hoofsaaklik by epileptiese pasiënte gebruik om te bepaal waar presies in die brein epileptiese aanvalle plaasvind. Hy het egter ook hierdie skandering gebruik om die gebruik van glukose in die brein vas te stel. Glukose is die vorm van energiegewende voedsel wat deur die liggaam en dan ook die brein gebruik word om die werk te doen. Die brein verbruik besonder baie energie – dit verklaar byvoorbeeld hoekom kinders wat byvoorbeeld nie ontbyt eet nie, gouer moeg word omdat hulle breinfunksies nie so flink is soos dié van kinders wat wel ontbyt eet nie.
Chugani het hierdie navorsing op kinders en ouer mense vanaf geboorte tot volwassenheid gedoen en toevallig vasgestel dat die verbruik van glukose op verskillende stadiums verskil. Hierdie glukose verbruik het hom dus in staat gestel om te bepaal wanneer daar besonder sensitiewe fases vir groei in die brein is. Glukose verbruik het ook aangetoon watter soort aktiwiteite tot verhoogde gebruik lei – maw watter aktiwiteite dit is wat die brein langer besig hou en dus meer breingroei laat plaasvind.
Ons weet almal reeds dat die periode vanaf geboorte tot ongeveer 3 jaar besonder belangrik vir breinontwikkeling is. Wat Chugani se navorsing egter vir ons aantoon is dat die periode tussen 4 en 5 jaar net so belangrik is. Op 4-jarige ouderdom is die korteks van die brein (dit is die buitenste erg-gevoude gedeelte van die brein – die deel waar die denkfunksies plaasvind) tweemaal so aktief soos dié van ‘n volwassene se brein. ...The brain continues to consume glucose at this feverish pitch through age 10 and then slows down until age 16, when it levels off at adult values... (Steve Nadia, 1993:1).
Die brein se glukose verbruik in kinders is so hoog omdat daar tweekeer meer breinkonneksies is wat onderhou moet word en ook tweemaal meer as wat op die ou einde behou sal word. Die interessante implikasie vir voorskoolse onderrig is dat die brein in die voorskoolse fase wag om te sien watter breinselle en konneksies deel gaan word van die permanente struktuur van die brein. Hierdie selle word dan nie afgeskei in die tydperk tussen 10 en 16 jaar nie.
Saam met hierdie bevindings oor glukose verbruik in die brein, word daar ook nou weer opnuut gekyk na die hele denke rondom sensitiewe ontwikkelingstye waartydens spesifieke aspekte op sekere tye meer geredelik ontwikkel. David Hubel van Harvard en Torsten Wiesel van die Rockefeller Universiteit (Shore, 1997:38) het byvoorbeeld reeds ‘n hele aantal jare gelede vasgestel dat as klein katjies se een oog toegemaak word, daardie katjies blind in die betrokke oog is omdat die konneksies na die brein nie gevorm is nie. Dit vind plaas ten spyte van die feit dat die oog struktureel niks makeer nie. Alhoewel ons nie hierdie inligting net so kan oorplaas na die ontwikkeling van jong kinders nie, dui dit tog vir ons op die belangrikheid van vroeë ervarings in die ontwikkeling van die brein en impliseer dit dat indien die sensitiewe tye nie gebruik word nie, die vaardighede en kennis later baie moeiliker aangeleer word. In hierdie verband sê Shore (1997:39) ...While learning continues throughout the life cycle, there are “ prime times” for optimal development – periods during which the brain is particularly efficient at specific types of learning.
Daar is al heelwat geskryf oor die verskillende vensters van geleentheid wat oop- en toegaan. Navorsers waarsku dat ons nie na hierdie sensitiewe geleenthede moet kyk asof dit skielik wyd oopmaak en dan weer bottoe toeslaan nie. Dit is gladnie so nie. Dit is byvoorbeeld nooit te laat nie, maar dit word net al hoe moeiliker soos wat die sensitiewe fase verbygaan. Wat met hierdie term bedoel word is dat daar sekere tye is waartydens die baba of jong kind by uitstek sekere dinge aanleer. So weet ons byvoorbeeld vandag dat die venster van geleentheid vir senso-motoriese leer, saam met sosiale leer die langste van alle fases oopbly. Daar is ook navorsers wat beweer dat leer deur middel van beweging reeds so vroeg as 2 jaar bepalend kan wees vir vaardighede soos ruimtelike konsepte, wat op hulle beurt weer die basis vir suksesvolle leer in die formele skool vorm. Dit sou beteken dat indien hierdie argument verder gevoer word, leer deur middel van beweging makliker is wanneer die kleuter jonk is. Daar is egter ‘n stadium wat hierdie leer slegs kan plaasvind indien daar van remediërende metodes gebruik gemaak word. As ons sosiale vaardighede as nog ‘n voorbeeld neem, is die vertroue en sekuriteit wat die baba ervaar die fondament waarop selfrespek, respek vir ander, empatie en die vermoë om jou beurt af te wag, almal vaardighede wat op die voorafgaande gebou is. Babas wat egter, as gevolg van omstandighede buite hulle beheer, blootgestel word aan herhaaldelike veranderinge in die “significant others” (die sekondêre versorgers buite die ouerhuis) in hulle versorging, het egter ‘n probleem om hulle vertroue in ander mense te plaas. In der waarheid is die venster van sosiale leer op sy wydste oop tussen die ouderdomme 4 tot 6 jaar. Die voordeel wat die kind uit hierdie sensitiewe tyd trek word egter deur die voorafgaande sosiale ervarings bepaal. Terselfdertyd moet ons onthou dat die sosiale vaardighede wat aangeleer word in die fase 4 tot 6 jaar vanaf 6 tot in die vroeë tienderjare verfyn en verbreed word. Die ervarings in die voorskoolse tydperk is egter bepalend. Sou daar in die voorskoolse fase iets skeefloop, sal daar weer eens met gespesialiseerde remediërende hulp veranderinge in die gedrag kan plaasvind.
Die studies oor die glukose verbruik van die brein asook die ander studies waarna in die voorafgaande gedeelte verwys word, moet noodwendig by ons vrae laat ontstaan oor wat die betekenis van hierdie bevindings vir die voorskoolse praktyk is. Dit beïnvloed die totale kurrikulum, vanaf die inhoud en die metode, tot aspekte soos verhoudings, dissipline en verantwoordelikheid.
Back to Top
Next Page >> 1 | 2 | 3 | 4 | 5 | |