play gyms manufacturer, jungle gyms manufacturer, south africa
Opvoedkundige apparaat en kleuters: ‘n Ontwikkelingsgeskikte benadering. Deel 1

Page 3

Back to Articles

Peuters: Twee tot Drie jaar oud

Die tipiese peuter van hierdie ouderdom kan reeds redelik vaardig beweeg en kan nou kom waar hulle vantevore net van ver af kon kyk. Nou kan hulle hul intellektuele nuuskierigheid bevredig deur self te ondersoek en te manipuleer.

Fisieke Ontwikkeling

Die normale twee- tot drie-jaar oud peuter kan reeds baie vaardig beweeg. Hulle kan op die klimraam klim en het reeds ‘n redelike mate van balans ontwikkel. Op hierdie ouderdom het hulle ruimte nodig sowel as verskillende soorte oppervlaktes waarop hulle kan beweeg en hulle bewegingsvaardighede kan verfyn. Vanaf die ouderdom van 9 maande kan babas al met balle begin speel en tussen twee en drie behoort daar baie balspeelgeleenthede vir hulle te wees. Op hierdie ouderdom begin hulle reeds die bal te rol, te “skop” en te gooi. Vang is nog nie so goed ontwikkel nie maar die onderwyseres kan deur versigtig te gooi en die peuter se aandag op die bal te vestig deur op die bal te klap en te sê “kyk hier, hier kom hy”, reeds begin om balvang-vaardighede by die peuter te ontwikkel.Op hierdie ouderdom kan hulle ook begin om op fietse sonder pedale te ry wat met hulle voete aangedryf word. Belangrik is die feit dat hulle op hierdie ouderdom bewus word van rigting en hoe om botsings te vermy. Basiese ruimtelike bewussyn is baie belangrik op hierdie stadium en vorm die basis vir verdere ontwikkeling later.Om van voorwerpe af te spring is ook ‘n aktiwiteit wat in hierdie tydperk ‘n aanvang neem. Skep geleentheid vir spring deur ‘n matras op die grond neer te sit waarop hulle kan bons en spring.

Ontwikkeling van verbeeldingspel

Die tipiese twee- tot drie-jaar oue peuter begin om verbeeldingspel te gebruik in hulle sosiale spel. Alhoewel die peuters van hierdie ouderdom nog egosentries is sal hulle tog van tyd tot tyd uitreik na ouer kleuters. Hierdie uitreik is dikwels op die vlak van naboots. Baie peuters van hierdie ouderdom sal ook begin om nagmerries te kry en toon tekens van vrees in die donker. Al hierdie tekens is ‘n bewys dat die peuter besig is om verbeelding te ontwikkel en te gebruik. Volgens Vygotsky is een van die vernaamste uitkomste van verbeeldingspel by peuters die feit dat verbeeldingspel hulle help om ‘n begrip te ontwikkel dat ‘n voorwerp as ‘n ander voorwerp gebruik kan word (byvoorbeeld ‘n blok vir ‘n selfoon, of klippies vir koekies). Hierdie is die begin van abstrakte denke. Die gewilligheid van die onderwyseres om saam met die peuters hierdie verbeeldingspel te speel is ‘n belangrike motivering vir die peuter om verbeeldingspel verder uit te bou en te gebruik. Hierdie verbeeldingspel geskied gewoonlik uitsluitlik tussen die peuter en een van die emosioneelbelangrike volwassenes in die leeromgewing.

Back to Top

Next Page >> 1 | 2 | 3 | 4 |

 

Home | About | Refurbishment | Services | Products | Pricelist | Maintenance | Testimonials | Specials | Accessories | When You Need It | Education | Guarantee | Order | Feedback | Terms & Conditions | Site Map | Marketing & SEO