play gyms manufacturer, jungle gyms manufacturer, south africa
Breinontwikkeling – Is dit regtig so belangrik?

Page 4

Back to Articles

Die inhoud van die kurrikulum

Daar is alreeds terloops geraak aan die feit dat die jong kind se brein tot veel meer komplekse denke in staat is as wat tans algemeen aanvaar word. Die wyse waarop inhoud en temas tans gekies word, is gebaseer op die benadering van bemeestering van klein hoeveelhede kennis. As ons na die kleuter tot en met 6 jaar kyk moet ons benadering eerder, volgens Martha Pierson (Nadia:1993), wees om kapasiteit te skep vir latere meer formele leer. Hoe ouer die kleuter word hoe meer word hierdie kapasiteit vir spesifieke vaardighede aangewend.

Indien ons met hierdie stelling saamstem, sou dit beteken dat temas of leerprogramme heeltemal anders gekies moet word. Temas moet baie meer geleentheid vir eksplorasie, ontdekking en oplossing van probleme deur die kleuters bied, met subtiele begeleiding deur die onderwyseres. Dit is in teenstelling met die huidige gebruik waar temas gebruik word om kennis oor te dra. Die nuwe hersiene kurrikulum in Suid-Afrika bied ruim geleentheid vir hierdie soort benadering.

Die inhoud van die kurrikulum moet in die eerste plek gebruik word om kleuters te help om generiese denkvaardighede soos waarneming, vergelyking, kategorisering, voorspelling en kommunikasie te ontwikkel. Hierdie vaardighede is juis dié soort vaardighede wat maksimum breinontwikkeling laat plaasvind. In hierdie benadering is die klem op korrekte feite nie belangrik nie. Daar word baie tyd en aandag aan die proses van leer bestee.

Hoe jonger die peuters en kleuters is hoe meer moet daar klem op kleingroep- en individuele kontak gelê word. Die peuter en jong kleuter se kurrikulum sou dus nie in afgebakende tye aangebied word soos by die ouer kleuter nie, maar wel op ‘n herhalende wyse dwarsdeur die dag. Ons sou byvoorbeeld dwarsdeur die dag aktiwiteite aanbied met klein groepies peuters, of selfs net met een peuter, wat met verf en teken, musiek en beweging, taal en stories lees, vir kort rukkies besig gehou word. Die klem by hierdie groep val veral op eksplorering van die media in kuns en uitgebreide eksplorering van die omgewing. Daar moet by hierdie groep sowel as die 3 tot 4 jaar oud groep, ruim geleentheid vir herhaling van aktiwiteite wees. Soos wat die kleuters ouer word behoort die probleme wat gestel word moeiliker te word. In hierdie verband dink ek aan ‘n probleem wat ‘n aantal jare gelede deur Esther Bredenkamp opgestel is in die Gr R groep in Unisa se Sentrum vir Kleinkinderopvoeding. Sy het ‘n battery, ‘n flitsgloeilamp, koperdrade, sagte binddraad en tou in ‘n houer geplaas en gesê: “Kyk hoe kan julle die gloeilampie laat brand.” Daar was van die kleuters wat tot ‘n uur lank verskillende kombinasies probeer het totdat hulle die liggie laat brand het.

Probleemoplossing as ‘n metode moet noodwendig meer op die individuele of in kleingroepverband plaasvind. Groepwerk as ‘n metode by die ouer kleuter werk baie goed in hierdie benadering. Groepe behoort nie meer as 3 kleuters te wees nie. Elke groep kan ‘n ander probleem kry om aan te werk.

Probleemoplossing as die sentrale tema in die kurrikulum

Daar is nou al herhaalde male verwys na die feit dat die ontwikkelende brein, hetsy dié van die baba of die ouer kleuter, voorkeur gee aan aktiwiteite wat probleemoplossing verg. Merlin Wittrock van UCLA se Opvoedkundige Sielkunde Departement (Nadia:1993) gaan selfs so ver as om te sê ...In place of the usual “drill and practice” programs, ...advocates complex problems without simple solutions that engage numerous systems in the brain and strengthen the connections among them...Omdat jong kinders langer tyd bestee aan die oplos van hierdie ingewikkelde probleme maak aktiwiteite wat rondom probleemoplossing beplan word ook ‘n meer permanente indruk in die kind se brein.

Kom ons kyk na ‘n praktiese situasie in die Voorskoolse sentrum: Wanneer byvoorbeeld collage-aktiwiteite in kuns bespreek word, is die meeste onderwyseresse in die bespreking van die materiaal geneig om te suggereer oor hoe die materiaal gebruik kan word. Die onderwyseres sal byvoorbeeld sê: “Kom ons maak ‘n padda. Ons kan hierdie klein ronde vormpies gebruik vir oë en die groot ronde vorms vir blare.” In die probleemoplossende benadering kan die probleem eerder gestel word: “Wat dink julle kan ons van al hierdie verskillende ronde vorms maak?” In ‘n tekenaktiwiteit kan die kleuters blootgestel word aan verskillende teksture en dan gevra word hoe hulle sag en hard sou teken sodat die persoon wat daarna kyk sal weet dat dit sag of hard is. Waarneming van byvoorbeeld ‘n regte padda, en bespreking van hoe die padda lyk en wat die padda doen, is almal aspekte wat keuses van media en hoe dit deur die kleuter gebruik word, sal beïnvloed.

Op dieselfde manier kan ons in stede daarvan om ‘n ritme in musiek voor te speel, die kleuters na ‘n video van galoppende perde laat kyk (of as dit moontlik is, na ‘n regte perd) en dan kan die kinders gevra word om hulle hande te klap dat dit soos perde klink. Hoe sou hulle byvoorbeeld galop dat die onderwyseres sal kan hoor en sien dat dit perde is? Die korrekte ritme is nie hier van belang nie; dit kan op ‘n volgende keer voorgespeel word. Van belang is dat die kleuters bestaande kennis en ervaring in verband met nuwe inhoud moet bring (die video of waarneming van perde) en daaruit ‘n oplossing vind vir die probleem wat die onderwyseres vir hulle stel. Die meeste aktiwiteite in die dagprogram kan in hierdie probleemoplossende metode ingeklee word.

Op dieselfde wyse kan Bewegingsaktiwiteite beplan word rondom bewegingsprobleme wat die kleuters dan met hulle liggame moet oplos. Op hierdie wyse word al die sintuie saam met beweging geïntegreer en vind daar maksimum leer plaas.

Vygotsky (Berk & Winsler, 1995:26) het beweer dat jong kinders in medewerking met ander kleuters probleme kan oplos wat hulle nie alleen sou kon doen nie. Op dieselde wyse kan ‘n moeilike probleem saam met die begeleidende onderwyser opgelos word. Hiermee word nie bedoel dat die onderwyser die probleem moet oplos nie. Eerder moet daar vrae gevra word wat die kind sal help om beter waar te neem, te vergelyk, te kategoriseer en op daardie wyse die probleem aan te spreek.

Back to Top

Next Page >> 1 | 2 | 3 | 4 | 5 |

 

Home | About | Refurbishment | Services | Products | Pricelist | Maintenance | Testimonials | Specials | Accessories | When You Need It | Education | Guarantee | Order | Feedback | Terms & Conditions | Site Map | Marketing & SEO