play gyms manufacturer, jungle gyms manufacturer, south africa
Breinontwikkeling – Is dit regtig so belangrik?

Page 3

Back to Articles

Wat is die implikasie van hierdie kennis vir die kurrikulum?

Die implikasie van hierdie navorsing en die gevolgtrekkings wat ons hieruit kan maak is baie duidelik volgens Martha Pierson (Nadia:1993), ‘n neurobioloog van die Baylor Mediese Kollege. Sy sê dat: ...Children need a flood of information, a banquet, a feast. Early childhood education shapes the basic architecture of the computer (brain). If you are exposed to enough things, you’ll develop a processor that can handle the flood of data that life throws at you later...

Indien ons na die bevindings kyk wat tot dusver in hierdie artikel na vore gekom het, moet ons erken dat hierdie feite die kurrikulum van die voorskoolse fase sowel as die kurrikulum van Gr R – Gr 3 radikaal beïnvloed. Kom ons kyk na elke bewering en besluit dan watter aspekte in die kurrikulum verander moet word:

Die emosionele veiligheid en geborgenheid van die jong kind is belangrik vir breingroei.

Indien ons die woord “breingroei” met “leer” sou vervang, sou dit dalk meer van ‘n impak op onderwysers sowel as ouers gehad het. Dit is egter ‘n onomstootlike feit dat ‘n hegte, standvastige verhouding met ouers in die eerste plek en “betekenisvolle”, sekondêre versorgers in die tweede plek, die fondament vir breingroei en leer lê. ‘n Warm hartlike verhouding gebaseer op wedersydse respek en aanvaarding, sowel vertroue, is absoluut noodsaaklik in die voorskoolse jare en dwarsdeur die skoolloopbaan. Dit is egter veral in die aanvangsjare waar die verhouding met die onderwyser ‘n besonder belangrike rol speel. Of ons dit wil weet of nie, jong kinders se motivering om te leer berus op die goeie verhoudings wat hulle met volwassenes in die leeromgewing het. Algemene praktyk wat hierdie aspek ondermyn is byvoorbeeld dat personeel met geen of baie min opleiding aangestel word. Volwassenes se vermoë om hegte verhoudings met kinders te ontwikkel behoort ‘n baie belangrike kriterium by die aanstelling van onderwysers te wees. ‘n Tweede aspek is die feit dat daar tans baie voorskoolse instellings en laerskole is waar daar hopeloos te veel kinders in ‘n groep is. Geen volwassene kan 40 en meer leerders emosioneel onderskraag nie. In ‘n vorige Kleuterklanke / Learning Years is daarop gewys dat die groepe vir 4- tot 6-jariges nie meer as 20 kinders mag wees as ons van kwaliteitonderwys praat nie. Insgelyks behoort die groepe in Gr R – Gr 3 ook nie meer as 20 kinders in ‘n groep te wees nie (Calitz: 2000:4-10).

Die rol van die volwassene moet verander

Onderwysers van jong kinders is geneig om na die jong kind te kyk in terme van die kind se onkunde en onvermoë. Die feite omtrent breinontwikkeling van die baba, peuter en kleuter sê egter dat ons hierdie jong kinders as aktiewe deelnemers aan hulle eie leerproses moet beskou. As aktiewe deelnemers word hulle leervoorkeure nie bepaal deur wat onderwysers as belangrik beskou nie, maar deur die brein se behoefte aan groeigeleenthede. Indien ons egter nou weet dat kleuters se breingroei, en dus hulle belangstelling gehou word deur:

  • Warm hartlike emosionele verhoudings
  • Probleemoplossing
  • Wye, soms onverwante ervarings
  • ‘n Oorvloed van verskeidenheid van ervarings, beteken dit dat ons heeltemal anders na wat ons beplan en uitvoer in die voorskoolse sentrum, moet kyk.

Hierdie feite beteken ook dat elke onderwyseres eenvoudig net nie meer op dieselfde manier as in die verlede kan onderrig nie. Ons moet werklik radikaal dink oor ons rol in die leer van die jong kind. Ons sal ons eie belangstellings baie wyer moet maak om te voldoen aan die honger, leergierige breine van die kleuters in ons sentra. Ons eie rol sal ook moet verander. Ons moet nie kinders meer leer in die tradisionele sin nie. Ons weet nou dat hulle self leer indien ons ‘n leeromgewing skep wat ryk is aan ervaring en verskeidenheid en hulle op die regte manier begelei.

Wat is dus ons rol? In die eerste plek moet ons die kleuters as ‘n groep, sowel as individue, baie goed ken om te weet wat dit is wat ons as leermateriaal behoort te selekteer. Hierdie benadering sou ook kan beteken dat ons meer as een tema gelyktydig kan laat loop, veral by die ouer kleuters. In die tweede plek is ons rol nie om die kleuters te vertel waarna hulle kyk nie. Nee, ons rol is om die kleuters te help om al hulle sintiue te gebruik en dan verbaal te kommunikeer wat hulle waarneem, hoe die nuwe inligting vergelyk kan word met ander ervarings, waar dit gekategoriseer kan word en of ons enige voorspellings kan maak gebaseer op wat ons waargeneem het.

Die moeilikste van al die veranderinge om te maak is om die kleuters te vertrou om inligting self te versamel en nie in die proses in te meng nie. Onder geen omstandigheid mag oplossings of antwoorde aan kleuters gegee word nie. Onthou dat probleemoplossing die vernaamste aktiwiteit is wat breingroei laat plaasvind.

Back to Top

Next Page >> 1 | 2 | 3 | 4 | 5 |

 

Home | About | Refurbishment | Services | Products | Pricelist | Maintenance | Testimonials | Specials | Accessories | When You Need It | Education | Guarantee | Order | Feedback | Terms & Conditions | Site Map | Marketing & SEO