Breinontwikkeling – Is dit regtig so belangrik?
Page 2
Back to Articles
Op grond waarvan besluit die brein om breinstrukture deel te maak van die permanente argitektuur van die brein?
“N’Kle.., N’Kle...” sê die 19 maande oue seuntjie terwyl hy die vormstel uitgooi en soos blits al die
helikoptervorms bymekaar maak. Hy loop met die vorms in sy hand na sy oupa toe en herhaal sy “N’Kle.” Oupa
gesels met hom en stel dan voor dat hulle na die noodhelikopter by die hospitaal gaan kyk. Hulle klim uit
die motor en kyk deur die heining na die geel helikopter wat daar gereed staan. Oupa en kleinseun gesels
oor die helikopter, Oupa in verstaanbare taal en seuntjie in sy eie taal waar daar hier en daar herkenbare
uitdrukkings is.
Hierdie is ‘n voorbeeld van ‘n aktiwiteit waar daar deur verskillende soorte herhaling vaslegging in die
brein plaasvind. Dit is reeds welbekend dat daar verskeie soorte ervarings is wat deur die brein deel van sy
permanente strukture gemaak word. Dit is bekend dat spel wat die jong kind toelaat om sekere aspekte van die
spel te herhaal, gekombineer met taalverryking en emosionele geborgenheid, sulke ervarings deel maak van die
permanente strukture van die brein. Op dieselfde manier kan ‘n kind saam met ‘n emosioneel-belangrike persoon
met ‘n bal speel. Die brein registreer die suksesvolle handelings terwyl die kleuter die sukseservaring herhaal.
Sukses en emosionele onderskraging is twee belangrike elemente vir permanente breinontwikkeling.
Alhoewel Michael Phelps van UCLA (Nadia:1993) sê dat ... If we teach our children early enough, it will affect
the organisation or ‘wiring’, of their brains..., moet ons onthou dat wat en hoe ons hierdie jong kinders leer,
baie belangrik is. Leerstof wat bloot gegrond is op herhaling of papierwerk (soos werkboeke en inkleurwerk) gaan
nie die gewenste resultaat hê nie. Leerstof wat gegrond is op ervaring, spel en geleentheid om deur spel aspekte
te herhaal, aan die ander kant, het ‘n permanente effek. Die teenwoordigheid van gesproke en geskrewe taal in alle
spel is een faktor wat deur Arnold Scheibel van UCLA se Brein Navorsingseenheid (Nadia:1993) uitgesonder word.
Die voorlees van stories, bespreking van ervarings en probleemoplossings is almal maniere waarop taal, emosies
en herhaling met mekaar verbind word.
Net soos daar sensitiewe tye en ervarings is wat breingroei bevorder, is daar ook volgens Shore (1997:39) ...
that there are times when negative experiences or the absence of appropriate stimulation are more likely to have
serious and sustained effects. Stres wat veroorsaak word deur jong kinders bloot te stel aan inhoude wat nie op
leefwêreldervaring gegrond is nie of nie ontwikkelingsgeskik is nie, het hierdie uitwerking op breinontwikkeling.
Streshormone veroorsaak dat die brein se aktiwiteite ingeperk word. Lang, aanhoudende en traumatiese stres,
byvoorbeeld waar die kind nie emosionele onderskraging kry nie, of verlating ervaar, kan selfs verlies van breinselle
tot gevolg hê (Rima Shore, 1997:40-48).
Watter soort aktiwiteite laat die brein ontwikkel?
Daar is een sonde waaraan die meeste volwassenes skuldig is, naamlik dat ons babas en jong kinders se
intelligensie onderskat. Hierdie wantroue in jong kinders en babas se vermoë om sin te maak uit ervarings
beteken dat ons leerstowwe beplan om in klein verstaanbare eenhede aan die kinders oorgedra te word. Hierdie
eenhede sou dan ingeboude “sukses” momente hê wat die kind sou aanspoor om die volgende eenheid te bemeester.
Vergelyk ‘n bietjie die tradisionele manier waarop temas (leerprogramme) in die kleuterskool beplan word. Dit
is presies op hierdie model geskoei. Merlin Wittrock ook van UCLA (Nadia:1993) sê egter dat ... the brain is
much more complicated than most of our instruction ... It has many systems operating in parallel ... Chugani
stem saam met hierdie bewering: ... Since repeated stimulation stabilizes the connection between neurons,
it’s better to expose a kid to a lot of things over a period of years, rather than trying to cover subjects
one at a time in brief, intensive workshops... Die brein is “ontwerp” om vanaf geboorte tot 6 jaar sin te
maak uit die omringende wêreld. Dit is wat die brein die heel beste doen. Wat ons beskou as aandagafleibaarheid
en gebrek aan konsentrasie by peuters, is eintlik die brein se manier om meer blootstelling aan ‘n groter
verskeidenheid van ervarings te kry.
As ons kyk na aktiwiteite wat die brein laat ontwikkel, is dit veral aktiwiteite wat soveel as moontlik
van die sintuie sowel as taal betrek. Die navorsers wat hierbo genoem is het ook ‘n baie interessante feit
vasgestel, naamlik dat die brein die langste tyd spandeer in probleemoplossing. Hierdie probleme kan, volgens
Merlin Wittrock (ibid), komplekse probleme wees sonder voor die handliggende oplossings. Probleemoplossende
aktiwiteite betrek talryke sisteme en strukture in die brein en versterk die konneksies tussen hierdie strukture.
In probleemoplossing moet die jong kind terselfdertyd bestaande inligting sowel as nuwe informasie bymekaar
uitbring en dan hierdie nuwe kennis toepas op die bestaande probleem en deur eksplorering en fisiese manupulering
die oplossing probeer vind. Die korrektheid, al dan nie, van die uitkoms van hierdie ingewikkelde aksie is nie
belangrik nie. Dit is die proses wat verseker dat daar breingroei plaasvind en strukture binne die brein versterk
word.
Chugani voel sterk oor twee soorte aktiwiteite om breingroei te stimuleer en deel te maak van die permanente
struktuur van die brein. Die eerste is die aanleer en gebruik van ‘n vreemde taal en die tweede is alle aspekte
van musiek wat beweging, speel van instrumente en sang insluit. Chugani sê dat die speel van ‘n instrument so
sterk vasgelê word in die brein dat daardie vaardigheid, soos fietsry, na jare weer herroep kan word. Dit is
natuurlik ook waar dat daar ‘n sterk verband tussen blootstelling aan musiek en vaardighede in wiskunde bestaan.
Back to Top
Next Page >> 1 | 2 | 3 | 4 | 5 |
|